KOM REIS EN EET SAAM ...
Nie net kan jy op ’n Saterdagmiddag weglê aan die lekkerste potjiekos in die Noordelike Voorstede nie, maar dit ook saam met die skrywer en TV-aanbieder Erns Grundling en sy gesin geniet.
Om 16:00 gaan Erns en sy vrou, Catharien, ons potjiekoskompetisie beoordeel. Dit gaan eerstens oor hoe geurig die potjiekos proe, maar deelnemers kan ’n bonuspunt verdien met ’n lekker storie.
Erns en Catharien bring hul skattige tweeling, André Jakkals en Henry Wolf, saam na die geleentheid. Die twee karnallies, wat sosialemediasensasies geraak het, gaan ook help proe.
Tydens hierdie kuier vertel Erns meer oor sy reise en pelgrimstogte, wat ’n besoek aan Japan voor die 2019 Rugbywêreldbeker insluit. Hy lees ook ’n rugbystaaltjie of twee voor uit sy boek Sushi en Shosholoza. Watter wonderlike manier om rugbygees op te bou net ses ure voordat die Springbokke en die All Blacks mekaar in Baltimore, Amerika pak in die laaste toets van die Greatest Rivalry toer.
Daar sal ’n kontantkroeg beskikbaar wees.
As jy (gratis) wil deelneem aan die potjiekoskompetisie, kontak vir MARELI MOSCA by 063 214 2162.