We are currently experiencing high traffic on the site and appreciate your patience.
Die geliefde radio-program Nic se goed het allemans-eiendom vir Suid-Afrikaners geword. Maar dís die oortjies van die seekoei. Nic de Jager is ‘n geliefde media-ikoon. Sy innemende teenwoordigheid het deur die dekades ‘n veilige hawe geword teen die roesemoes van die wêreld. En dan praat ons nie eens van sy ánder bydraes in die rolprent- en televisie-wêreld of sy reuse-bydrae tot die musiek-bewussyn van ons land nie.
Ná bykans 85 jaar lig Frederik Nicolaas de Jager in hierdie eenmalige aanbieding die sluier om sélf te praat oor sy liefdes, sy ervarings, sy teleurstellings en suksesse. Gehore kry vir die eerste keer die geleentheid om die méns agter die stem te ontmoet. Hy is in eie reg ‘n verteller soos min, ‘n stylvolle raconteur wat nie skroom om die eerlike kollig waarvoor hy bekend is, hierdie keer op homself te rig nie.
Die grepe uit sy lewe is onthutsend eerlik en terselfdertyd diep roerend. Kom ontmoet die mens agter die mikrofoon, die akteur sonder die masker van ‘n karakter. Dis Nic de Jager op sy beste: eerlik, spitsvondig en wel-ter-tale – met ‘n sak wonderlike stories op die koop toe.
Coenie de Villiers sluit aan by Nic de Jager op die verhoog as aanbieder.
*
Bewonderaars volg Nic se goue stem vandat hy as een van die eerste uitsaaiers by die SAUK in Johannesburg aansluit. Hulle het hom deur al die jare getrou gevolg in sy radiodrama-rolle, as radio-nuusleser, programsamesteller, aanbieder en vervaardiger van ? verskeidenheid programme. Toe televisie in 1976 die land tref, was Nic een van die baanbreker televisie-nuuslesers en programaanbieders. Hy vertolk toe én nou steeds nimlike rolle in ons eie TV-dramas en in talle films.
Nic se eerste liefde bly egter die radio. Sy tydlose vertolkings van gedigte, sy insiggewende vertellings oor die agtergrond en herkoms van opera en sy kennis van musiek in den brede – benewens sy sosiale kommentaar – verseker dat Nic se alom-gewilde “Nic Se Goed” verpligte luisterstof op ‘n Sondag bly.
In hierdie verhoog-memoir onthul Nic waar hy aan sy biblioteek van kennis kom. Hy praat oor sy liefde vir diere, sy vaardigheid as fotograaf en deel sy agter-die-skerm-staaltjies oor wat wérklik gebeur het op onder meer die stel van The Gods must be Crazy.
Kom hoor hoe Nic de Jager vir die eerste keer oor sy ánder goed gesels.
Regie: Ingrid Howard
Konsep en inkleding: Ingrid Howard en Coenie de Villiers
Vervaardiger: Tale Be Told Productions
Aanbieder: Coenie de Villiers
Beligtingsontwerp en projeksieontwerp: Loui Griebenouw
Verhoog-meublement: Cielo
Bespreek by: Webtickets
Plek: Drostdy-teater, Stellenbosch
Datum: Sondag 2de Maart om 15:00
Prys: R220